ons land is bibberend koud
ons land is aan die brand
dele van KwaZulu-Natal en Gauteng
lyk soos ’n oorlogsone
soos koringlande na ’n sprinkaanplaag
asof dit getref is deur ’n tsunami, Ma
ons is ontnugter, begogel
onseker, selfs bang
ons het ons onskuld verloor
die ou reënboogdrome aan skerwe
ek is dankbaar dat jy en Pa hierdie gespaar is
en tog
wens ek jy was nog hier
ek sou so graag hieroor met jou wou praat
jou wysheid hoor
jou vra om my leeggeworde lampie
weer vol van jou olie te maak
die covid spook nog by my, Ma
party dae voel dit soos ’n heldedaad
om net uit die bed te kom
en daar verloor ons toe bowendien vir ou Richie ook, Ma
totaal onverwags, hartaanval
ons is steeds in skok
ek weet nie mooi hoe om vorentoe te gaan nie, Ma
ek probeer so blymoedig wees soos jy altyd was
maar ek sukkel, ek kry dit nie reg nie
miskien is daar tog nog hoop
die stille meerderheid wat – oor kleurgrense heen –
weer stadig begin opbou
ek wonder wat jy oor al hierdie dinge sou sê:
dalk dat selfs al bly ons omstandighede voortdurend verander,
dit nie bepalend is van ons verhouding met God,
of onsself, of ons vriende en familie of ons waardes nie
jy sou sê dit bied ons net nuwe geleenthede om te dien.
en om die Here dankbaar te wees ook vir hierdie tye
van onrus, onsekerheid en siekte
want dit bied nuwe moontlikhede,
nuwe vlakke van geloof
sjoe, die wêreld is deurmekaar, Ma
ons land is bibberend koud
ons land is aan die brand
en tog hoor ek jou sê:
“blom waar jy geplant is”
ek is klaar met die dinge van ’n kind, Ma
ek word nou, al gaan dit swaar,
’n man