al het niemand jou nog ontmoet nie
ken almal jou naam
jy’s famous
jy’s ʼn celebrity
daar’s ʼn hemel van ʼn hamburger
by die Vrije Burger wat na jou vernoem is
jy het die woord ‘nugter’ gekoop
jy hou van musiek
jy speel self die baskitaar
bewonder Schalk Joubert
jy’s ʼn alkoholis
jy het baie skuldgevoelens
oor jou eerste huwelik
oor die skade wat die drankduiwel
aan jou kinders gedoen het
jy het teen alle verwagting in
weer liefde gevind
al is jy diep gebroke,
is jou hart goed
jy’s ʼn goeie kollega
ʼn goeie mens
jy het medelye met ander
want jy verstaan jou eie gebrokenheid
jy is vir my meer lewend
as baie nie-fiktiewe figure
wat ek daagliks om my sien
jy is ʼn baasspeurder
ʼn kaptein
ʼn Valk
jy, Bennie Griesel, jy