Desember
by die see
laataand
lê ons saam
op die bed
ek lees ’n storie
vir jou
ek hoor hoe
die slaap
jou kom haal
langs my
styf teenaan my
onder die kombers
jy’s veilig
jy’s warm
jy’s naby
ek maak my oë toe
sê stil dankie
raak bewus
van hierdie goue oomblikke
my kleivoete ten spyt
is ek begenadig
is ek ryk
het ek oorvloed
ontbreek niks my nie
dis die laaste gedagte
wat deur my kop gaan
voordat ek vir laas
die storieboek neersit
die slaap
my ook vind
en kom haal