ek roep jou vanmôre voor die gees
ek sien jou weer duidelik
op daardie klassiekgeworde koerantfoto’s
beide swart en wit
in jou pak, met jou toga
arms gekruis, loop jy voor
‘n seun van die Vrystaat
Jakes Gerwel aan jou sy
’n effense frons kreukel jou voorkop
jy wat vreesloos
vasberade die gevaar tegemoet stap
terwyl dié om jou vlug
uit vrees vir rubberkoeëls
jy ongeïntimideerd, onwrikbaar
met oë waarin die waarheid
waarin oortuiging en begeestering
gloei soos kole
met ’n kop vol sistematiese teologie
met ’n hart vir die geringstes
die onderdruktes
die gemarginaliseerdes
van Kwazakhele
van Bellville-Suid
van Belhar
jy die protesstem
die stem van hulle
wat geen stem gehad het nie –
nou kan jy maar gaan rus
jy verdien die rus
jou werk voltooi
dit is volbring
goeie en getroue dienskneg
jy het geleef, geleer, gely, gesterwe
gedring deur die Meester se liefde
want dis groter as die dood –
gaan in in die vreugde van jou Heer
in sy groot toekoms
in sy koninkryk wat vir jou gekom het
in die vervulling van al sy beloftes.