Ek sal op hierdie grou, reëngevulde wintermôre my oogtande gee vir ’n bord van my ma se lensiesop. Ek dink altyd aan haar wanneer dit reën. Miskien omdat sy in die dorre binneland grootgeword het en as deel van ’n boerderygemeenskap kon sy altyd met groot genoegdoening en genot by die ruit uitstaar na die reën wat val, en dan vir my pa sê: “Ag Pappa, kyk hoe lékker reën dit nou!”
Noudat sy nie meer daar is nie verlang ek die heel meeste na haar op reënerige, koue, nat dae. Ek mis haar geweldig baie; die warm, gemoedelike samesyn. En ek mis veral ook haar lensiesop op sulke dae. Die herinnering aan haar lensiesop, aan die reuk daarvan, laat steeds my mond water.
Sy het altyd gesê dat sy die resep daarvoor by my Ouma Anna, my ouma aan vaderskant, geleer het. Ouma Anna was ’n kind van die depressie; sy was gevolglik ’n bietjie aan die suinige kant. Sy het ’n pennie gedruk totdat sy oë traan. My ma het my eenkeer vertel, so met ’n effense glimlag, dat sy die oorspronklike resep so ’n bietjie moes aanpas “om hom lyf te gee”. Dit het eintlik in praktyk net beteken dat sy meer vleis, meer lensies en meer groente by die sop gevoeg het. Die effek daarvan was dat dit ma se lensiesop ryker en meer vullend gemaak het.
Toe ek in Engeland was, het ek by my Engelse vriende die woord “wholesome” geleer. Dit bly vir my ’n baie mooi en beskrywende woord. Dit is gewoonlik gebruik om ’n persoon (en snaaks genoeg nie kos nie) te beskryf. Een persoon sou dus ’n ander persoon in ’n bepaalde konteks as “wholesome” beskryf. Ek hoop vir jou onthalwe dat jy iemand in jou eie kring het wat heilsaam, die ewe mooi Afrikaanse ekwivalent, is. As jy het, sal jy wéét wie die persoon is. Jy sien, die ding met heilsaamheid is dat jy hom dadelik en duidelik herken wanneer jy hom teëkom. Dis soos om verlief te wees of om waterpokkies te hê.
As ek aan Ma se lensiesop dink, is “heilsaam” die eerste woord wat by my opkom om dit te beskryf. Haar sop was bykans die vergestalting en definisie van heilsaamheid.
Ek verstaan van my Joodse vriende dat hulle tydens die Sabbatsmaal of ter viering van die ander Joodse feesdae dikwels tradisionele hoendersop bedien. Hulle verwys daarna as “Joodse Penisillien” – want, so word daar vertel, dit is bykans soos medisyne vir velerlei geringe kwale en skete. Ek kan volledig hiermee vereenselwig, want my ma se lensiesop het ’n soortgelyke medisinale waarde gehad. Dit het teleurstelling, hartseer, verkoues, die lewe se stampe en stote, snye en kneusplekke en selfs ’n gebreekte hart bykans oombliklik beter laat voel. Dit was “comfort food” in die ware sin van die woord. Koesterkos. Miskien selfs nog meer so omdat dit met die bekendheid net meer bemind geraak het. En omdat dit op ’n gemaklike, gemoedelike en gerusstellende wyse bedien is. Ek onthou dat wanneer ek haar lensiesop geëet het, ek altyd gevoel het dat, ongeag hoe dinge nou lyk, alles op die ou end reg en goed sal uitwerk. Dat alles oukei sal wees. Daar was ’n goeie skeut Romeine 8:28 deurstrengel in Ma se lensiesop.
Ma se lensiesop was “soul food” (soos hulle daarna verwys in die diep suide van Amerika). Sielskos. Hartskos. Wat my altyd welkom laat voel het, tuis laat voel het. Tuis laat kom het na ’n warm, veilige, vriendelike plek. ’n Plek waar ek my hare kon laat hang en waar my onrustige hart ’n bietjie tot bedaring kon kom en rus vind. Ontvang soos ’n eregas; met hartlikheid oorlaai.
Soos seker vir almal is sop vir my ook by uitstek ’n winterkos. Daar is iets in die koue, nat Kaapse winters wat werk saam met sop soos een van die bekende smaakkombinasies – sout en asyn, vye en bloukaas of varkvleis en appelsous.
Ek het duidelike herinneringe dat ek as hoërskoolseun op nat wintersmiddae ná skool by die huis sou kom ná ’n rugbyoefening op die C-veld. Die C-veld se dreinering was altyd problematies en dit was daarom dwarsdeur die winter, elke winter, eintlik net ’n modderbad met kalklyne en pale. Ek het gelyk soos een van die 1981-Springbokvoorspelers tydens hulle toer in Nieu-Seeland – met modder besmeer van kop tot tone en deurnat tot op die vel. Ma het dan altyd laggend vir my gekyk en gesê dat wanneer ek eers ’n warm stort gevat het en skoon is, daar ’n lekker bord lensiesop vir my wag. Dit was asof daardie lensiesop in staat was om ’n mens van binne af warm te maak en die koue vanuit jou kern te verdryf.
Die ander aangename herinnering aan ma se lensiesop was die gemoedelikheid, die samesyn, die lag en die gesels wat plaasgevind het in hoop se helder kring wat geskyn het om die tafel waarop die sop bedien is. Ek wonder nou, by nabetragting, of dié gesellige samesyn bygedra het tot die smaak, genot en heilsaamheid van haar lensiesop. Heel waarskynlik.
…………
Ek het as kind goed kon verstaan hoekom Esau sy eersgeboortereg in die Bybel aan Jakob verkoop het vir ’n pot lensiesop. Die transaksie het op die oog af baie redelik vir my gelyk. Dis nou natuurlik op die aanname dat dit ’n pot lensiesop soortgelyk was aan my ma s’n.
………….
Ek het as kind goed kon verstaan hoekom Esau sy eersgeboortereg in die Bybel aan Jakob verkoop het vir ’n pot lensiesop. Die transaksie het op die oog af baie redelik vir my gelyk. Dis nou natuurlik op die aanname dat dit ’n pot lensiesop soortgelyk was aan my ma s’n.
Ek het dikwels goedig die draak met haar gesteek en gesê dat eendag wanneer ek bekend is en daar vir my as deel van ’n onderhoud gevra word wat my gunstelingkos is, sal ek antwoord: “Lensiesop soos my ma dit gemaak het.” Sy het baie daarvan gehou as ek dit sê; sy het dan behoorlik gestraal van vreugde.
Ek het sedert haar afsterwe nog nooit weer die voorreg gehad om sop soos hare te proe nie. Miskien maak my herinneringe die sop selfs nog beter as wat dit in der waarheid was (en dit was werklik goed om mee te begin). Miskien sal ek nooit weer sop soos hare proe nie. Gelukkig het my liefde vir haar lensiesop, sterk aangevuur deur die nat Kaapse winters, my van sop oor die algemeen laat hou en wanneer dit koud is, eet ek graag ’n bord sop. Ek het ook gevind dat sop ’n baie goeie middagete is as ’n mens in die hof is, aangesien dit vullend is sonder om ’n mens oorvol te laat voel. Een van my goeie vriende op die dorp deel my liefde vir sop en wanneer ons smiddae saam gaan eet, eet ons dikwels sop. Miskien het sy ma ook so ’n wonderlike sopresep gehad.
So van sopresepte gepraat, my susters sê vir my dat hulle al hóéveel keer probeer het om Ma se lensiesop te maak, maar hulle probeerslae proe net nie dieselfde nie. Ek dink dis omdat my ma so by benadering gekook het. Sy het nooit ’n resep nougeset gevolg nie. Haar resepte was altyd net so naastenby. As ’n mens haar sou vra hoe om die lensiesop te maak, sou sy seker antwoord met iets soos: “So ’n bietjie van dit en ’n bietjie van dat, ag my kind, jy sal sommer sien.”
Ek het die ander dag Kung Fu Panda saam met my dogtertjie gekyk. Die hoofkarakter (Po, die panda) glo dat sy pa (wat ’n noedelrestaurant bedryf) se legendariese noedeldis ’n spesiale, geheime bestanddeel bevat. Dit blyk later in die film dat daar geen sodanige spesiale, geheime bestanddeel bestaan nie. Dit is op hierdie punt waar my storie van Po s’n verskil.
Ek weet, al het ek dit eers heelwat later besef, dat my ma se lensiesop verskeie geheime bestanddele bevat het. Sy het saam met die water twee koppies liefde ingemeng. Saam met die groente het sy ’n eetlepel lag bygevoeg. Die lensies, die lag en die liefde is dan saam verhit en sopbene is bygegooi. Dan het sy ’n eetlepel vrede en ’n knippie hoop bygeroer en die pot stadig laat prut op ’n stoofplaat van geduld. Op ’n kol sou sy sout en peper byvoeg en die lensiesop besprinkel met kruie van haar eie – geloof, blymoedigheid, versorging, warmte en beskerming. Sy het die wese van wie sy was verstrengel in die pot, dit deurgemeng, dit “infuse” met wie sy was.
Kahlil Gibran skryf in verband met “werk” dat dit onder meer moet wees “[…] to charge all things you fashion with a breath of your own spirit”. Dit is dalk wat ek die heel beste van my ma se lensiesop onthou – dat dit háár sop was. Dit was belaai met die asem van haar eie gees. Die smaak sal my altyd bybly; die geur sal saam met my bly reis tot aan die einde.
Ek sal altyd terugkeer, wanneer die reën sag neersif oor die Kaap en ek kyk of ek ’n sifsel sneeu op die Stellenboschberg kan sien, na die hout voordeur, die vuil toks, die winter wat hang in die lug, die heerlike geur, die warm stort en die gesellige ete saam met my ma, aan haar liefdevolle lensiesop wat trou aan haar aard was.
Aan die einde wanneer ons deur die dal van doodskaduwee moet gaan, dink ek ’n mens behou slegs jou herinneringe en jou geloof. Wanneer dit my beurt is en ek daar kom, sal die geloof om haar en my pa weer te sien nie beskaam nie en ek sal Goddank die herinnering hê van die smaak van haar lensiesop; die reuk van haar omgee. Die veilige, verwelkomende, gerusstellende, vertroostende reuk van haar lensiesop.
Ma, jy het altyd gesê dat wanneer jy die dag jou skoene vir die laaste keer uitskop en in die ewige lewe finaal tot ruste kom, jy lekker wil rus en tog net nie daar Bo ook vir almal wil bontstaan nie. Daarom het jy altyd gesê dat wanneer jy daar by die Hemelpoorte aankom, jy vir Petrus sal vra om jou tog net nie by die kos- of kinderafdeling te plaas nie. Ek weet nie of jy al ’n kans gekry het om met hom daaroor te praat nie, maar as jy wel by die kosafdeling geplaas is, sal jy asseblief ’n bakkie lensiesop vir my hou vir wanneer ek kom?