Ons kind kom terug van ’n skoolkamp af. Grootoog vertel sy hoe lekker dit was. Sy babbel skoon van opgewondenheid. Sy sê die kos was nie watwonders nie. Maar die nagmars en die hindernisbaan was opwindend. Die maatjies oulik, die onderwysers behulpsaam en vriendelik. Die kamers, met en suite badkamers, mooi en skoon. Daar was springbokkies wat gewei het teen die hange van die Hawekwaberge en selfs ’n baba-paddatjie met die naam ‘Dikgat’.
Sy wil haar doodlag dat ek ook eersdaags op ’n kamp van my eie moet gaan. Sy verduidelik leedvermakerig en met groot genoegdoening hoe smal die kampbedjies is en hoe onaangenaam kampkos is. En dan sê sy laggend, as ’n terloopse opmerking: “Maar ten minste sal pa dan weet hoe dit voel.”
Opeens, te midde van die alledaagse om my, is ek in ’n heilige spasie. Daar is gewydheid om my en gebrandskilderde glas waardeur die lig na binne val. Die kind, my kind, sonder dat sy dit weet of kan begryp, is besig om die Woord aan my te verkondig. Sy preek (bedoel op die beste moontlike manier) vir my!
Want, jy sien, Kahlil Gibran het al oor die liefde gesê: “… (A)l hierdie dinge sal die liefde aan jou doen sodat jy die geheime van jou eie hart mag ken en in daardie wete deel word van die hart van die Lewe.”
Ek verstaan opeens klokhelder en op ’n diep persoonlike vlak anderkant woorde of kopkennis dat Jesus Christus, my Verlosser, vlees geword het en tussen ons kom woon het (Johannes 1:14) sodat Hy (en sy Vader waarmee Hy een was) ten minste kon weet hoe dit voel. Hoe ons voel, wat ons daagliks beleef, wat ons bang maak, bly maak, seer maak, dood maak, lewe gee.
Hy het Homself “ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword”(Filippense 2:7). Hy het, om ons onthalwe, in ons skoene kom staan, ’n paar myle in ons menslike skoene geloop. Net soos ons. Jy kan dus die Christus, na gelang van jou oortuiginge, moontlik van vele dinge beskuldig of verwyt, maar onpersoonlik wees is sekerlik nie een daarvan nie. Hy is, in ’n baie praktiese sin, Immanuel – God met ons. Hy weet hoe dit voel, hy weet hoe ons voel en waardeur ons gaan. Hy het dit aan sy eie lyf gevoel.
Hierdie wete anker my en versterk my. Dit maak my innig dankbaar vir genade. Ook die onverdiende guns wat as waarheid na my toe vloei deur die oop sluis van ’n suigeling se mond. Die ewige ontdekking (of dalk beter herontdekking) van ou waarhede wat nuut word. En in die nuwe vergestalting beklee word met dieper betekenis.
Ek is bly ons kind is veilig tuis. Ek het nuwe moed vir die nou kampbedjies wat eersdaags my voorland is. Ek gaan daarheen aan die hand van die Meester, die liefdevolle en getroue Meester, wat sekerlik verstaan hoe dit voel om ongemaklik te slaap, koud te slaap. Hy het immers gesê jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie (Lukas 9:58). Saam met so ’n Heiland stap ek die lewe, die toekoms, hoopvol tegemoet, effens minder angstig. Dit is soos die ou liedjie (Lied 396 – “Aanskou die Heiland, sien die kruis”) sing: “in só ’n redder sal ek roem”.
- Skuilnaam.