op helder wintermôres
koud soos hierdie een
is die Bolandse lug
so onbevange blou
is die Bolandse berge
so onbesonne blou
dat dit jou hart van heimwee kan laat pyn
heimwee wat weemoedig en wit
soos ’n flitsende steekpyn
jou binneste
deurskiet
jou deurboor
sodat jy
tussen hemel en aarde
bly hang
en jou hart
vir altyd na hierdie plek
hierdie helder plek
hierdie blou plek
terug sal hunker