die werf is oud
die akkerbome is ouer –
krom ou manne
luister aandagtig
geduldig
na die musiek
met takke groen
hemelwaarts uitgestrek
– effens wiegend –
ritmies op die maat
hulle ken musiek
ontvanklik luister hulle al lank
na die seisoene se simfonie –
wind se weemoedige wysies
son se koperblasers
reën se slagwerk
blou berge se diep bas
maanskyn se strykers
klaviere wat soms hartseer
maar altyd hoopvol
steeds hier speel
terwyl alom
in die agtergrond
wingerde hande vat
saam neurie
die wyse bome weet
wat elke hart stil aanvoel:
die tyd het gekom
vir drome om wakker te word
Deur Willem De Swyger, geïnspireer deur Versnit 2023.
Deur Willem De Swyger, geïnspireer deur Versnit 2023.