vanaand
in my hartland
in my Boland
staan die eike
van geregtigheid
die bome
van versoening
lowergroen
arms omhoog
hande uitgestrek
om sag ‘n seën
oor ons af te bid
en te sing uit volle bors
vir die blou lug
vir die donker nag
vir die somersterre
wat stil in die hemel hang
sing ou liedere
sing nuwe liedere
vrolik
vol vreugde
vol heimwee
vol verlange –
die verlede
is half vergete
bykans vergewe
en al wat oorbly
is ‘n ou droom
steeds onvervuld
hardnekkige hoop
en nuwe vergesigte
van wat moontlik is
van wat kan wees
as ons harte hande vat
as ons omgee
as ons kies om te help
en ons die pad
van die toekoms
vreesloos
veerkragtig
saam loop