Skip to content
kaalvoet 3000

KAALVOET

WILLEM DE SWYGER

Oom Groot Piet

(1) Oom Groot Piet gesels goedig oor die draad
sy hande groot, sy stil oë saggeaard,
sy khaki hoed het houding, sy gesig ken son
sy F250 bakkie gee elf myl per gallon

(2) Oom Groot Piet boer in Kuruman se buitewyk
hy kan vasvat, uit sy maag lag, ‘n barshou kyk
daar’s ‘n goue kanon op sy Gunston pakkie
Fido, sy hond, ry voor in die Ford bakkie

KOOR
hier waar die ooptes wyd en vêr lê,
lê sy hart tevrede in sy bors
hier waar rooi duine dor soos kurk is,
is soet water vir sy siel se dors



(3) hy gebruik sy sigaretboks vir somme maak
dis sy kudde rooibeeste wat hom so trots maak
hy ruik na rook en beesmis, son, seep, rooi sand
hy lees die Landbouweekblad van hoek tot kant

(4) op die plaas Nuwe Hoop boer Oom Groot Piet
hy staar na die wolke, fluit Jan Pierewiet
sy khaki hoed, sy knipmes, sy gesig ken son
sy F250 bakkie gee elf myl per gallon

KOOR x 2

Lirieke van Kaalvoet

Kaalvoet

Untitled-3

(1) stil sit jy met jou slanke voete in die sand
die volmaan vul die hemel oor die hinterland

(2) sterre wat bo die Kalahari kaperjol
stadig maak vrede jou borsholte vol

(3) onophoudelik draai die aarde om die son
nanag reken Skerpioen af met Orion

(4) uitgestrekte hemelruim slaan jou asem weg
maak jou stil en nietig teen die spierwit Melkweg

KOOR x 2
sit met jou kaal voete in my rooi sand
laat die nag begaan, laat die vuur bly brand

(5) daar’s ‘n ander wêreld, dronk gedraai op sy as
waar als verander wat eens standhoudend was

(6) ontnugter, onrustig met ‘n asem wat jaag
soos ‘n hond wat sy stert in sirkels bly jaag

(7) onrustig, ontnugter met ‘n asem wat hyg
word die waarheid al hoe meer doodgeswyg

(8) omring deur die sagte hande van die nag
ou kameeldorings hou stil oor ons die wag

KOOR x 2

In my Murg

(1) jy wat altyd beter weet en teëpraat
weet jy die beste stuurman staan aan wal?
wil jy my nie maar eerder net met rus laat
want jou niksseggende woorde maak my mal

(2) ek is keelvol vir die doemprofete
hul ouvroustories in ‘n half-leë glas
al luister ek soms teen my beterwete
aan hiérdie wete klou ek egter vas:

KOOR
ek gee nie om wat julle sou sê nie, hierdie is my land
sy wolke en sy droogtes en sy berge,
harde, rooibruin sand
ek gee nie om wat julle sou vra nie,
hierdie is my taal
met al haar sagtheid, en haar staal


(3) my liefde vir dié grond loop deur my are
my liefde vir dié taal vars in my mond
lê in my murg, versterk deur al die jare
elke asemteug beskryf my wen en wond

(4) ek weet waar ek vandaan kom, ken my ouers
ek ken dié dorre grond, taal in volbloed
ek sal nie vrees nie, wéét waar ek geplant is
voor wie sal ek beskaamd staan, sonder moed?

KOOR x 2

Untitled-2

Pa se gedig Attie van der Colff, 2008

Untitled-5

Die dag wanneer jy my in die hemel soek,
sal jy my daar kry
waar die nederiges en geringstes van Sy kinders bly.
Nie in die voorgestoelte of plek van eer –
Dis vir die heiliges en martelare gereserveer,
maar agter, naby haar wat net
aan Sy kleed se soom kon raak.
Vra vir Legio of die ander melaatses
of die kruiseling wat gesê het: “Dink aan my”
Hul sal jou kan sê waar ek bly.
Want ek is daar uit loutere genade
by dié in wie jy geen verdienste vind
daar het Hy my plek berei.
Ek sal daar sit met ‘n bekertjie in my hand
wat oorloop van lof en prys en dank.

Wyngebed

(1) pluk my tog sagkens, versigtig
van waar ek vasgegroei het
ry my van daar skud-skud aan
na waar U voorberei het
na waar U voorberei het

(2) sif my onsuiwerheid uit
kraak, deur die seer, my dop
tot my selfvoldaanheid verdwyn
bevry die sap in my opgekrop
bevry die sap in my opgekrop

KOOR
U ken die water, Heer
ja, U ken die wyn
U breek die ewige brood, Heer
in duister U lig wat skyn

(3) laat U gees deur my gis
tot my aard geheel verander
tot my skerp kante sag is
omsluit my, vorm my karakter
omsluit my, vorm my karakter

(4) maak wyn, in fyn balans, van my met ’n helder suiwer boeket
waarin die son en aarde gedy
geskik vir U hemelse banket
geskik vir U hemelse banket

KOOR

BRIDGE
laat my in U bly
want U is die wynstok
soos U ook in my
want ek is die loot
dat ek veel vrug, Heer
kan dra tot U eer

KOOR x 2

Untitled-6

My taal

Untitled-7

my taal kan klap soos ‘n sweep
sy kan hard wees soos ysterklip
sy kan swets soos ‘n matroos
maar soms kom lê sy, sag en soet,
soos heuning op my tong
sy vergestalt my vrese, drome, hoop
verwoord my lief en leed
vul my huis en haard
vind weerklank in my gebed
sy stap uit die kombuis uit
sy verwelkom my met arms wawyd oop
daar is ‘n konsertina in haar stem
‘n ghoema in haar lag
uitbundig dans sy ‘n riel
sy is sonder weerga
sy staan in volblom
met wortels vas geanker in Afrikagrond
deurdrenk van son
taai, aanpasbaar soos ‘n aalwyn
sy hou nooit op met groei
sy rank tot teen die hoogste hemelblou
sy bly, vir altyd, mý taal

Untitled-8

Das Südwesterlied

(1) So hart wie Kameldornholz ist
unser Land
Und trocken sind seine Riviere.
Die Klippen, sie sind von der
Sonne verbrannt
Und scheu sind im Busche die Tiere.

KOOR
Und sollte man uns fragen:
Was hält euch denn hier fest?
Wir könnten nur sagen:
Wir lieben Südwest!

(2) Doch uns’re Liebe ist teuer bezahlt
Trotz allem, wir lassen dich nicht
Weil unsere Sorgen hell überstrahlt
der Sonne hell leuchtendes Licht.

KOOR

Und sollte man uns fragen:
Was hält euch denn hier fest?
Wir könnten nur sagen:
Wir lieben Südwest!

(3) Und kommst du selber in unser Land
Und hast seine Weiten gesehen
Und hat uns’re Sonne ins Herz
dir gebrannt
Dann kannst du nie wieder gehen.

KOOR

Und sollte man dich fragen:
Was hält dich denn hier fest?
Du könntest nur sagen:
Ich liebe Südwest!

Untitled-9

Varkoor

(1) jy is vrou, en tog is jy kind
soms is jy water
maar meer dikwels wind
weerbarstig waai jy waar jy wil
weerbarstig waai jy waar jy wil

(2) soos lente in lemoenboorde
waar nuwe bloeisels bot
weerklink jou woorde
wat vassteek in my kop
vassteek diep in my kop

KOOR
ek pluk vir jou ‘n varkoor
wat wit groei
langs ‘n Bolandse treinspoor
ek pluk vir jou ‘n varkoor
wat wit groei

(3) jy laat my hart rinkink
jou lag los op in die lug
as ek aan jou dink
hoor ek ‘n Springsteen tune
hoor ek ‘n Springsteen tune

(4) jy is mooier as ‘n bybelvers
daar is heuning in jou oë
al gaan dit tandekners
bly jy my hart se punt
bly jy die vetkant van my hart se punt

KOOR

Untitled-10

BRIDGE
stap saam met my
hand aan hand
deur die delftblou oggend
die goue middaguur
die granaatrooi skemering
die diepste van die donker nag
die donker van die swartste nag

KOOR

Untitled-11

Vier Jaargetye (in die Boland)

(1) konfettireën oor Stellenboschberg is winter
knus trek Botma sy mus oor sy kop
Kerkstraat verander in langwerpige spieëls
langs vol leivore tot by Moederkerk

(2) in die lente is Dorpstraat op sy mooiste,
uitgevat in kisklere van lowergroen
soms verswelg die Eersterivier se kabbeling
die Kweekskool se hoogdrawende gedagtes

KOOR
ongeag van die seisoen
ou Eikestad, jy kleef my aan
geen ander plek kan jou dit nadoen
jy laat my nooit as te nimmer gaan


Untitled-12

(3) wanneer somer kom, staan die Pieke bewend –
afgeëts teen deinserige blou
stop die woel en werskaf op die Braak
dan verlang die Kruithuis terug

(4) rooibruin verf herfs die wingerdblare,
Markötter droom van nog ‘n Springboktrui
vier ons fees met woorde wat vlerke kry
in die wind, oor die Ou Hoofgebou se dak

KOOR x 2

Untitled-13
Lirieke van Kaalvoet

Pers Trapfiets

(1) jy lyk so blêrrie ouderwets
op jou heel eerste pers trapfiets
tussen die Kweekskool en die Laan
‘n hanetree van Dorpstraat
verander jy in ‘n spoedvraat
waar ‘n krom ou akkerboom nou staan

(2) jy reken die Eersterivier
is Adam en Eva se rivier
jy leer koördinasie verstaan
al die pad tot by Coetzenburg
oor ons krakende ou houtbrug
leer jy van hou in jou baan

KOOR
nou is jy jonk, ons lewens is ineengevleg
jy’s veilig-geborge onder my vlerk,
my kind
maar in ‘n oogwink sal jy jou weg
deur dié wye, wilde wêreld moet vind

(3) jou fiets se naam is Carolien
ek wens jou ouma kon jou sien
jou speke sing ‘n gesangvers
voor oë het jy één vaste doel
jy jaag deur élke modderpoel
jou valhelm-pletterpet is pers

KOOR

(4) die middag glip so gou verby
op die klimraam wys jy tricks vir my
jy swaai, swaai skoppelmaai
jy lui jou fiets se klokkie
die wind waai jou pienk rokkie
my hart maak ‘n tiekiedraai

BRIDGE
die middag is mooi soos Psalm 23,
U goedheid en guns is só oorvloedig –
die blou berge lê om ons heen
die rivier blink soos ‘n edelsteen
en lui lê die groen Laan plat op sy rug
ons teug diep aan die vry Bolandse lug
maar, meer nog, en dis onwrikbaar –
vir nou en vir altyd het ons mekaar

KOOR x 2

Lirieke van Kaalvoet

Essie

(1) totdat ons twee paaie één
geword het,
het my hart onrustig in my bors bly lê –
jy het die geraas wat in my kop
gedruis het,
stilgemaak sonder om ‘n woord te sê

(2) jy verander liefde in ‘n werkwoord,
daarom sal ek weet, selfs as is jy stom,
dat ek by jou wil wees en tuishoort
tot ons eendag stokoud is en krom

KOOR
als wat alledaags is,
maak jy buitengewoon;
jou liefde sonder fieterjasies,
sonder vertoon
als wat ordinêr is,
maak jy buitengewoon;

jou liefde sonder fieterjasies,
sonder vertoon
jou liefde sonder fieterjasies,
sonder vertoon
dat ek by jou wil wees en tuishoort
tot ons eendag stokoud is en krom

KOOR

BRIDGE
vir soveel jare al
is jy die vry blou lug
onder my vlerke
is jy die vaste grond
onder my voete –
dis net jy
en as jy lag,
daardie sorgelose-vry lag,
breek die son deur die wolke
val sag op my gesig

KOOR

Untitled-16

Gedig vir Ma

Untitled-17

my ma het lief soos 1 Korintiërs 13
sy glo in meer as wat sy met haar oë kan sien
haar liefde moedig my aan
om my boeg se staal in die oop see te toets,
haar liefde gee my die moed om te misluk
sy durf dit waag om die beste van my te glo
sy glo in my al twyfel ek in myself
sy laat die hoop nooit beskaam nie

haar liefde bedek alles, glo alles
my ma het lief soos 1 Korintiërs 13
sy is vir my veel beter as wat ek ooit sal kan verdien

my ma het lief soos 1 Korintiërs 13
sy glo in meer as wat sy met haar oë kan sien
haar liefde moedig my aan
om my boeg se staal in die oop see te toets,
haar liefde gee my die moed om te misluk
en al is ek aan haar vas met bande
van liefde, lewe en bloed
is my ma die gedig wat ek nooit sal kan skryf nie