toe die donker
later
’n digte sluier trek oor
groen lane wat stom
rooi baniere uitblom
geplooide ietermagô berge
wat oortrek is
met harde horingskubbe
het die Skepper
vir Van Gogh gevra
om hom te help
om hierdie naghemel
wat stadig
laag vir laag afskilfer
met kerse op sy hoed
met behendige hand
met bestendige hand
te skilder
om hierdie helder
lentenag
wat swaar dra
aan die reuk van nuwe groen
wat wolkloos hang
wat sorgeloos sing
wat uitgestrek lê
in ’n halfboog
gestut tussen die berge op die horison
en die ewig-dreunende oseaan
droomagtig
vlamagtig
te versier
met blink
met intense blou
met geel wat groei
in vrymoedigheid
met kort sirkelvormige
kwashale
wat om en om
die kerkspits
in die verte
sirkel
vas bly sit
ingebrand
in die oog
se kegelvormige
horingvliese