Op ’n dag het ’n ou man strandlangs geloop. Hy het opgelet dat ’n storm duisende seesterre op die strand uitgespoel het. Hy het op ’n seun afgekom wat die seesterre een vir een opgetel en teruggegooi het in die see. Die ou man is getref deur die oënskynlike nutteloosheid van die taak. Daar was hopeloos te veel seesterre en baie van hulle sou sekerlik in ieder geval vergaan. Die ou man sê toe vir die seun: “Jy moet seker van lotjie getik wees. Daar is duisende der duisende seesterre op hierdie strand. Jy kan onmoontlik ‘n verskil maak.” Die seun, wat aandagtig geluister het, buk toe weer af en tel onverstoord nog ’n seester op en gooi dit ook terug in die branders. Hy draai toe terug na die ou man en sê: “Ek het aan dáárdie een ’n verskil gemaak!”
Ek sal later terugkeer na die verhaal van die seesterre.
Onlangs is ek, my vrou en ons dogtertjie al drie positief getoets vir Covid. Dit het alles begin toe my vrou onverwags haar reuk- en smaaksintuie gelyktydig verloor het. Afgesien van moegheid en ’n sinusagtigheid was haar simptome redelik lig. My dogtertjie was bykans sonder simptome. Ek was sieker. Ek het ’n doodse moegheid gehad wat ek net nie kon afskud nie, met lyfseer en knaende, kloppende hoofpyne. Ek het genadiglik nooit asemnood ervaar nie en kon ook ’n besoek aan die hospitaal vermy. My knap huisarts het my konstant herinner dat solank as wat ek vryelik en sonder bystand kon asemhaal, ek eintlik niks het om oor te kla nie.
***
Ons lewe in onseker tye. Dis ’n feit wat staan soos ’n paal bo water. Hierdie ongenooide virus, wat nou al meer as 15 maande in ons midde is, plaas ons in onbekende vaarwater en vat ons onwillig op reis na ’n onbekende bestemming, sonder die sekerheid van ’n kaart.
***
Ons lewe in onseker tye. Dis ’n feit wat staan soos ’n paal bo water. Hierdie ongenooide virus, wat nou al meer as 15 maande in ons midde is, plaas ons in onbekende vaarwater en vat ons onwillig op reis na ’n onbekende bestemming, sonder die sekerheid van ’n kaart. Met die derde vlaag wat nou in volle swang is, voel dit vir my die sirkel word algaande nouer om ons getrek. Almal ken iemand wat siek is of was, of is of was self ook siek. Baie mense het reeds geliefdes aan die dood afgestaan. Ons harte gaan uit na almal wat tans siek is en ons opregte medelye en meegevoel aan almal wat reeds iemand verloor het.
Vir my was die onsekerheid die ergste. Dit is die wesenlike basis van die vrees – die vrees vir die onbekende. Jy weet gewoon nie hoe jy op die virus gaan reageer totdat dit jou tref nie. Sommige mense het bykans geen simptome nie, ander sterf. En jy weet nie waar jy op die spektrum gaan land voordat jy pens en pootjies in die situasie is nie. Dié toedrag van sake is vreesaanjaend.
Covid raak ons almal. My een vriend het beide sy ouers verloor. My kollega se seun moes noodgedwonge dae lank suurstof tuis ontvang omdat ’n groot Kaapse privaathospitaal gewoon nie ’n bed vir hom beskikbaar gehad het nie. ’n Ander kollega se ma is sleg siek en hulle het vir die ergste gevrees (genadiglik is sy intussen besig om mooi aan te sterk), en my susterskind, wat ’n verpleegster is, plaas dag na dag haar lewe op die spel deur na haar siek pasiënte om te sien. Dan is daar diegene wat weer op allerlei ander maniere ly. Ek sien vanmiddag op ’n Facebook-groepie van my grootworddorp van ’n 52-jarige man wat afhanklikes het. Hy skryf dat hy en sy vrou albei hulle werk verloor het as gevolg van Covid. Hy “smeek op sy knieë” vir “enige werk”. Hy vra nie eers vir vergoeding nie. Net vir ’n dak oor hulle kop en ’n bord kos vir elkeen elke dag. Ek was skoon aangedaan. En so, sonder dat ek dit beplan het, is ek aangespreek en het ek opeens duidelik besef hoe geneig ek is om steen en been te kerm en te kla. Hoe maklik ek kla, hoe sonder rede ek kla. Hoe ek kla met die spreekwoordelike witbrood styf onder elke arm terwyl daar soveel ander mense is wat baie erger daaraan toe is as ek. Hoe ondankbaar ek is vir alles wat ek het. Om van Stef Bos te leen: “Te veel ontevreden met alles / Te weinig tevreden met niets.”
Ek is nie ’n dominee, ’n pastoor, ’n priester, geestelike, dogmatikus of enige ander vorm van teoloog nie. Ek is net ’n gewone ou wat nie die antwoorde het nie. Wat worstel met my eie vrae en vertwyfeling. Wat probeer sin maak, soos wat ek nog altyd gedoen het, deur daaroor te skryf. En as wat volg vir jou soos ’n preek klink, weet dan net dat ek in die eerste plek myself aanspreek. Dat ek diep bewus is van die balk in albei my oë en dat ek weet dat my nommer 12-voete ook maar van klei gemaak is.
As ek oor die pandemie nadink, meld daar weer en weer ’n paar gedagtes by my aan.
Die eerste is Jesus se belofte in Johannes 10 dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie. Dis ’n bemoedigende woord in ’n amper hopelose tyd. Kort daarna hoor ek Dawid praat van die Herder se stok en se staf wat vertroos al moet ons ook deur ‘n dal van doodskaduwee gaan. En dan sluit Paulus by die gesprek aan en herinner my dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Niks nie. Nie die vrees of onsekerheid vir Covid nie, nie hoë koors, doodse moegheid, erge lyfseer, kloppende hoofpyn, asemnood of hospitalisasie nie. Nie ’n ventilator nie en selfs nie eers die dood self nie. Niks nie. Hierdie liefde, waarmee ons volkome en volmaak liefgehê word, is absoluut onlosmaaklik vas aan ons, net soos wat ons absoluut onlosmaaklik vas is aan die Gewer daarvan. Hierdie liefde bly getrou, selfs al is ons ontrou; dit bly voortdurend bemoeienis met ons maak en soek ons beswil (selfs al moet ons ook leed, pyn, lyding of onsekerheid verduur). Ons sal dalk eers volkome die implikasies hiervan verstaan wanneer ons ken soos wat die Here ons geken het.
Die tweede gedagte is CS Lewis s’n. Ek het ’n sagte plek vir hom, want hy verwoord wat hy glo so klokhelder duidelik dat hy dit telkens vir my ook oopsluit. Daarmee saam is hy eerlik oor wat hy nie weet of verstaan nie. Hy het op ’n kol geskryf dat God pyn en lyding gebruik as ’n megafoon. God gebruik pyn en lyding as’t ware om ons aandag te kry op ’n wyse wat dalk andersins nie moontlik sou gewees het nie. As dit waar is, en ek glo uit eie ervaring dat dit wel die geval is, is die vraag wat ons onsself moet afvra dit: “Watter lesse is daar dan wat hierdie Covid-pandemie ons, afsonderlik en gesamentlik, moet leer?” Let op dat hierdie vraag steeds relevant bly, selfs as jy nie in God glo nie of Sy bestaan betwyfel.
Die derde gedagte is dat krisissituasies die vermoë het om die heel beste en die heel slegste in die mensdom na vore te bring. Dis amper asof die krisis sekere karaktereienskappe wat nog altyd latent in ons gelê het, na die oppervlak roep. Die skrywer Rebecca Solnit maak die volgende stelling in haar boek getiteld A paradise built in hell: the extraordinary communities that arise in disaster: “Horrible in itself, disaster is sometimes a door back into paradise, that paradise at least in which we are who we hope to be, do the work we desire, and are each our sister’s and brother’s keeper.”
Kan ek net hier bely dat mense wat Covid as nét negatief of nét positief beskou, my so effens irriteer, omdat so ’n siening bykans altyd op ’n oorvereenvoudiging gebaseer is. Die lewe is gelukkig of ongelukkig meer genuanseerd as die absoluutheid van swart-of-wit denke. So ook die samesweringsteoretici. Ek het iewers gelees dat om jou te bekommer soos ’n wiegstoel is – dit gee jou iets om te doen maar dit kry jou nêrens nie. So is dit ook met samesweringsteorieë. Dis gewoonlik ’n verskoning vir baie praat en min doen. Dis soos om ’n kortpad te probeer vat deur ’n komplekse probleem. Of om beheer te probeer terugneem in ’n situasie waar ’n mens lank reeds beheerverlies akuut ervaar.
***
Ek het iewers gelees dat om jou te bekommer soos ’n wiegstoel is – dit gee jou iets om te doen maar dit kry jou nêrens nie. So is dit ook met samesweringsteorieë. Dis gewoonlik ’n verskoning vir baie praat en min doen. Dis soos om ’n kortpad te probeer vat deur ’n komplekse probleem. Of om beheer te probeer terugneem in ’n situasie waar ’n mens lank reeds beheerverlies akuut ervaar.
***
Ek wil dit ook duidelik stel dat ek innige simpatie met die regering het. Hulle het ’n onbaatsugtige en onbenydenswaardige taak. Hulle is nou behoorlik tussen twee vure. Hulle kan nooit wen nie en hulle gaan altyd kritiek kry. Enersyds kritiseer die medici hulle as die inperkingsmaatreëls beskou word as te laat of onvoldoende. Andersyds kritiseer die sakelui hulle as die inperkingsmaatreëls beskou word as voortydig of oormatig. Van hulle word verwag om ’n uiters delikate balanseertoertjie uit te voer in belang van die meerderheid mense in omstandighede wat voortdurend aan die verander is. Miskien moet ons hulle minder kritiseer en meer vir hulle bid.
Wat tot redelik onlangs vir ons normaal en vanselfsprekend was, het die Covid-pandemie – moontlik onherroeplik – verander. Die pandemie konfronteer ons en vra van ons om ons lewens in heroënskou te neem. Om ons keuses te heroorweeg en plek-plek te herbesin oor wat vir ons werklik van belang en van waarde is.
Met verloop van tyd sal hierdie pandemie verbygaan en ons sal leer om met die nagevolge en dralende simptome saam te leef. Die aard van die wêreld is vervlietend en immer veranderlik. Wat gaan oorbly om ons, en – meer belangrik – ín ons ná die pandemie?
Sir James Barry, die skepper van Peter Pan, het lank gelede al gevra: “Shall we make a new rule of life from tonight: always to try to be a little kinder than is necessary?”
Ek laat jou met ’n paar vrae van my eie. Jy kan dalk, in die stilligheid van jou binnekamer, hierdie vrae oorweeg, oordink en so eerlik as moontlik probeer beantwoord. Skyn jy, in hierdie donker tyd, die lig wat net joune is? Bemoedig jou woorde en dade jou medemens of doof dit die vlam van hulle hoop uit? Waag jy dit om jou medemens se kruis van leed en lyding te help dra? Kyk jy, so goed as wat jy kan, na die mense wat aan jou sorg toevertrou is? Gee jy werklik om of staan jy afsydig teenoor die nood van ander? Raak jy betrokke of bly jy gemaklik van die kantlyn af kritiek skree? Gaan hierdie krisis vir jou oor meer as jouself en jou eie belang?
John Wesley se woorde kom onwillekeurig by my op:
Do all the good you can,
By all the means you can,
In all the ways you can,
In all the places you can,
At all the times you can,
To all the people you can,
As long as ever you can.
As hierdie krisis jou uit jou gemaksone ruk – as dit jou noodsaak om jou fokus te verskuif na buite die beperktheid van jou eie klein wêreldjie en die engheid van jou eie belang – werk God se megafoon dalk verbasend goed.
My pa was ’n wyse man. Hy het altyd gesê dat mense soos die negatiewe van foto’s is. Dat hulle kleur te voorskyn kan kom slegs wanneer die rooi lig van iemand anders se liefde op hulle skyn. Laat die rooi lig van jou omgeeliefde, veral in hierdie donker tyd, vrylik op jou medemens skyn sodat hulle kleure kan ontwikkel. Wees self, soos Gandhi gesê het, die verandering wat jy graag in die wêreld wil sien. Wees die verskil, selfs al lyk die taak oorweldigend, verlammend groot of oënskynlik nutteloos. Selfs al lyk dit of daar heeltemal te veel is om te doen en te min tyd om dit te doen. Al lyk dit onmoontlik en asof jy nie enigsins ‘n verskil gaan kan maak nie.
Onthou dan ’n seuntjie wat sy vyf broodjies en twee vissies gebring het, selfs al het dit na hopeloos te min gelyk. Maar dat sy min, wat in die hande van die Meester vermeerder het, voldoende geword het om ’n groot skare te voed.
Onthou dan, juis dan, ook ’n ander seun. Die een op die strand. Onthou die verhaal van die seesterre. Bepaal jou fokus net by die volgende seester. Een seester op ’n slag. Een tree op ’n slag. Een dag op ’n slag. Tel dit geduldig op en gooi dit getrou, liefdevol en vasberade terug in die branders. Hou net aan en moenie moed verloor nie. Vir ’n dapper hart is niks onmoontlik nie. En weet dat vir dáárdie seester, daardie één spesifieke seester, jy ál die verskil gemaak het.
Deel hierdie stuk: