I
skiet
vrolik en vol vreugde
vol hoop
soos op Oujaar
’n ster vir my
met ’n duisendvoetfakkel
die hoogte in
die donker in
oor die deining
oor die dreuning
van ’n laagbrandende
oseaan
II
word
’n wyserster
’n wegwyser
’n padvinder
’n ligspoor
wat met ’n lang stert
sikliese sirkels
trek om die vaste punt
van die suidelike
hemelpool
III
laat vuur, laat vlam
laat drup die vet
op ’n helderbrandende ster
wat gaandeweg
gloei
met die helderste lig
skyn
met die suiwerste lig
IV
die skugter ster
bewe blink
oorverhit
brand wit uit
verskiet
in ’n glansende baan
deur die donker
van ’n droomagtige
naghemel
val
val
val
en verlig
met ’n stokou lig
met ’n gans ander lig
met ’n splinternuwe lig
’n gebroke lig